.
 

EEN GROOT FEES

Daar’s ʼn opwindende ‘opmars’ uit die Suid-Kaap aan’t opwel.  ʼn Begeesterende eko-beweging wat die vaandel sterk laat wapper vir die gebruik van heilsame, vars slow food - om erkenning te gee aan al die partye in die voedselketting.
Die bakermat is Knysna, wat vanjaar sy vierde Gastronomika-fees aangebied het; met sóveel inspirasie dat dié pragtige kusdorpie nou alom as die bewaker van ‘billike’ kos geag word.
Volkome verbind tot die Gastronomika-etos, het altesaam 11 eetplekke en restaurante in en om Knysna  - Caroline’s, Cruise Café, Del Gusto, Falcon View Manor, île de païn, Orchid Room, Pembreys, Raasoie, Zachary’s, Zest en Zucchini - besoekers in September op ʼn spesiale ‘handelsnaam’-spyskaart getrakteer - en behoorlik uitgehaal en gewys. Tot groot genoeë van die stroom lekkerbekke wat vir die duur van die fees op Knysna en omstreke toegesak het.
Gastronome kon onder meer ook leer hoe om sushi te maak, sjokolade-proesessies en –werkswinkels bywoon en meer leer van die harmoniëring van watertandgeregte met enkel gedistilleerde moutwhisky. Terseldertyd het bioafbreekbare versierings, houers en geskenkpapier gewys hóé nuttig en omgewingsvriendelik dit is.
Soos gewoonlik is die vyfdaelange fees weer met groot luister aan die media bekendgestel en kon die groep joernaliste eerstehands sien – én proe – presies hoe die organiese mantra in Knysna se koskorridors toegepas en uitgeleef word.
Wildsvleisgevulde spring rolls, ʼn watertand-visgereg met geroomde oesters en les bes, ʼn hemelse ‘ontwerper’-sjokoladenagereg was van die geregte wat met groot flair by die bekendstellingsgeleentheid opgetower is, en met groot bewondering en goedkeuring deur die gaste geniet is.
“Gehalte is waarskynlik die een van die hooffokuspunte van die fees. Vir ons omvat dit natuurlike, vars, seisoengebonde organiese produkte, vry van gif- en spuitstowwe. Dít wil Gastronomika demonstreer en aanmoedig met die uiteindelike doel om ʼn betekenisvolle en volhoubare lewenswyse en gemeenskap te vestig,” het feesvroedvrou Pat Mulder die etos verduidelik.
By die sierlike ou gastehuis Falcon View Manor, het chef  Dan Gee die groep se verbeelding later die aand verder aangegryp, veral met sy geurige kabeljougereg en tuisgemaakte likeurroomys. En die volgende oggend het ʼn heerlike ontbyt by uiters gewilde île de païn gevolg, waar die reuk van varsgebakte brood en varsgemaalde koffie jou met die intrapslag heeltemal oorrompel. Ook langsaan, by die organiese groente- en koswinkel, numnum, kan jy jou vergryp aan al die kraakvars produkte en ongewone lekkernye.
By die Timberlake-padstal, op die pad na Wildernis, kry mens nogmaals snuf van organiese heilsaamsaamheid in die neus.
Alles in dié dorpie-in-die-kleine – en geesteskind van die pa-en-seun vennootskap, Derrick en Tevon Thom -  wentel eweneens om gesonde, natuurlike, vars produkte wat sover moontlik deur plaaslike boere en kosmakers verskaf word: van die kaas-, koffie-, gesondheids-, olyf-, en wynwinkel,  tot die deli en die restaurant. Timberlake se kwekery en organiese tuin is self ʼn lushof wat Jan Publiek sowel as die koffiewinkel en restaurant van produkte voorsien.
By die Gastronomika-restaurant Zucchini, kry jy ʼn keur van Suid-Afrikaanse geregte met ʼn ‘kinkel’; alles net van die beste en varsste organiese produkte moontlik.
Geesdriftig beman deur Zelidé Breedt en Stephan Henning, twee verplante Vrystaters en passievolle kosgeesdriftiges,  proe jy dit in elke hap: van die smullekker pampoen-en-biltong ‘sigare’, geroosterde patatskyfies en neutgeroosterde avo-helftes, tot die watertand eland- en beeshaas-kirke en keurige slaaibord met heerlike vars beet, klein tamaties en karamel-uie.
 “Ek stuur elke oggend vir Anna, wat die groentetuin daar oorkant beman, ʼn lysie van alles wat ons dié dag nodig gaan hê, so, al ons groente altyd vars uit die grond. Ons gebruik ook net eerstegraad-, free range vleis,’ spog Zelidé.
• Bewys jouself ʼn groot guns en maak volgende jaar ʼn draai by Knysna se Gastronomika-fees. Dis ʼn manna-uit-die-hemel ervaring.

 

 

Site designed and hosted by S2 Web Solutions.